SA kunste verloor een van sy grootste ondersteuners

Lynette Marais, vir dekades die ruggraat van die nasionale kunstefees in Makhanda (Grahamstad), is gister ná ’n kort siekbed dood in haar huis op die dorp. Sy is vier weke gelede met kolonkanker gediagnoseer.

Marais was van 1989 tot 2008 aan die stuur van een van Suid-Afrika se enigste ware nasionale kunstefeeste en die grootste fees van sy soort in die Suidelike Halfrond. In dié tydperk was daar groot politieke omwentelinge in die land.

Sy het die fees bevry van die skeldnaam dat dit te “eurosentries” is en haar beywer vir ’n meer inklusiewe fees. Sy was nie net die kreatiewe direkteur van die fees nie, maar ook geldinsamelaar én bestuurder daarvan.

“Ek dink nie daar is enigeen wat so ’n merkwaardige bydrae tot die kunste in Suid-Afrika gelewer het nie. Sy het die fees onderhou en gestuur deur troebel tye soos die destydse noodtoestand, sensuur en die laaste jare van apartheid. Sy het geveg om dit ’n oop, toeganklike fees vir almal te maak,” het Ismail Mahomed, wat die kreatiewe direkteurskap van die fees in 2009 by haar oorgeneem het, gesê. Sy was ook ’n toegewyde vriend en mentor vir Mahomed.

“Sy was my eerlikste kritikus, ’n formidabele vriendin. Ons het elke week gepraat. Sy laat ’n reuseleemte in my lewe,” het Mahomed gesê.

Ek dink nie daar is enigeen wat so ’n merkwaardige bydrae tot die kunste in Suid-Afrika gelewer het nie. Sy het die fees onderhou en gestuur deur troebel tye soos die destydse noodtoestand, sensuur en die laaste jare van apartheid

Die fees is ná Marais bestuur deur Mahomed en Tony Lankester. Mahomed het gereeld geskerts dat “twee mans aangestel moes word om haar (Marais) se werk te doen”.

Sy was nie een vir die kalklig nie, en het haar werk agter die skerms gedoen, sê Peter Terry, wat jare saam met haar by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Truk) in Johannesburg en Pretoria gewerk het.

“Sy was ’n etiese, morele mens en baie betrokke by ander. Sy het graag gehelp. Ons kan haar bydrae seker meet aan die finansiële verslae van die fees, maar dit is haar ondersteuning en werk aan mense wat nou bekend is in die bedryf wat tref. Sy het kunstenaars oor dekades heen bygestaan in hul loopbane en deur die kanale van die fees geleenthede bly skep. Sy was soos ’n moeder Hen oor akteurs,” het Terry gesê.

Hy beskryf haar as ’n reguit mens. “’n Mens het geweet waar jy met haar staan. Sy kon nie mense duld wat lyf wegsteek nie. Sy het dieselfde van jou geëis as wat sy van haarself geëis het. Maar agter haar streng voorkoms was ’n hart van goud.”

Haar bynaam was die “Google van die kunstewêreld” omdat sy bykans almal geken het en maklik met hulle in kontak kon kom. Benewens haar hartstog vir die kunste, haar ondersteuning van kunstenaars, hardwerkendheid en toegewydheid, word sy onthou vir haar uitbundige lagbuie.

“Jy kon haar lag ver hoor. Sy was ’n ware mensch, iemand met wie jy lekker kon kuier en reis. Sy was ’n besonderse mens,” het Mandie van der Spuy, voorheen van Standard Bank, die hoofborg van die fees, en jarelange vriendin van Marais, gesê.

Hulle ken mekaar al sedert die jare sewentig. “Ek kon haar Maandagaand gaan groet; sy het my nog herken.”

Marais het in Port Elizabeth grootgeword en aan die St Dominic-kloosterskool skoolgegaan. Hier het sy as skoolkind reeds in musiekspele opgetree.

Sy het ’n diploma in spraak en drama aan die Universiteit van Kaapstad behaal en het deelgeneem aan rondreisende toneelgeselskappe. Sy het onder meer saam met Sandra Prinsloo en Marius Weyers opgetree. Daarna het sy as hoofbestuurder van die drama-afdeling by Truk gewerk. Dit is hier waar sy haar formidabele organisatoriese vaardighede geslyp het.

Sy is meermale bekroon vir haar werk in Grahamstad, nie net vir die fees nie, maar ook vir haar werksaamhede in die gemeenskap te wete die bestuur van die Rotariërklub en die plaaslike Hospice. Sy was ook ’n lekeprediker in die Anglikaanse kerk op die dorp.

Die Rhodes-Universiteit het in 2009 ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken en sy het ook in dieselfde jaar ’n Fleur du Cap-prys vir haar lewenswerk ontvang.

* Marais word oorleef deur twee susters. Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.

Deur Laetitia Pople

SHARE THIS ARTICLE

Subscribe To Our Newsletter

Keep up to date with the latest news from STAND.

Scroll to Top